Ons almal gaan deur stadiums wat ons voel dat ons net nie waardig genoeg is om voor God te kom nie, weens 'n sonde waarmee ons sukkel. Sodra satan die geleentheid kry om mens aan te val sal hy dit doen tot die einde toe, dit is ons keuse of ons vir hom gaan luister of gaan glo wat die Woord van God vir ons sê.
Ek het vir omtrend 'n maand lank deur dit gegaan wat ek nie weet waar ek in pas in bediening nie, dat ek geglo het ek is nie waardig genoeg om eens in gebed na God te kan gaan nie, dat ek gevoel het ek gly as Christen en dat God my as sondaar nie kan gebruik as Sy dienskneg nie.
Ek het dit so erg beleef dat ek gediagnoseer was met depressie en die dokter wou my op anti-deperesante sit. Toe hy dit vir my sê was dit asof my hele wese daarteen skop! Ek was 20jr gelede vir 2jaar op anti-depresante tablette en het so diep in depressie geval dat ek gewens het ek kan liewers net doodgaan. Die Sielkundige wat ek op daardie stadium gesien het, het my na 'n ander Sielkundige verwys vir hipnose.
Die nuwe Engelse Sielkundige het 3 maal probeer om my gehipnotiseer te kry en het later gesê " Ek kan jou nie help nie, jou breinkrag is te sterk, net voor ek jou kan kry om oor te gaan in die "sub-conscious" trek jou brein jou weer terug na die "conscious".
In die motor het ek gevoel "dit is nou tipies! hier is die maklike manier uit, en my brein is te sterk!" Skielik besef ek wat ek dink....my brein is te sterk!! Ek het begin lag en gedink dit is seker die mooiste kompliment want die Dr nou ooit vir iemand kon gee, ek het net daar in die motor besluit, "as my brein te sterk is vir hipnose, is my brein te sterk vir depressie!" En so het ek myself elke keer wanneer gedagtes wat my depressief gemaak het by my opgekom het dit net weggestuur na die hel toe en vir myself gesê "Jy kan dit oorwin met Jesus wat jou 'n sterk brein gegee het" Ek het myself ook belowe dat ek nooit weer in depressie se hande sal val nie.
20jaar later besluit satan dit is tyd om dit vir my terug te gee en weer te probeer om my lewe te verwoes, teen hierdie tyd het ek al my eie bediening en het ek al met mense gewerk deur die jare wat aan depressie ly, en wragtig daar val ek weer in sy strik! Die keer oor my eie geestelike lewe! Ek het onwaardig gevoel om God se dienskneg te wees!
Gedurende die laaste maand het ek baie met vriende probeer praat oor hoe ek voel, en al wat hulle my gegee het was kompliment van hoe ek mense al gehelp het het , en siele gered het! Dit is nie wat ek wou hoor nie, ek wou waardig voor God voel! Ek wou weet dat ek goed genoeg is vir God en dat Hy my kan gebruik as dienskneg en hiermee het ek 'n groot worsteling gehad.
Ek het met 'n Pastoor's vriend gesels oor die Internet, verduidelik dat ek nie wil hoor hoeveel mense ek al gehelp het nie, ek wil weet wat is fout met my, hoekom voel ek so en hoekom stuur God nie vir my mense nie, maar Hy praat met my oor groot dinge wat in my toekoms wag deur drome.
Sonder om my te komplimenteer of te bemoedig stuur my liewe vriend vir my Skrif!
“Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra.
Julle is alreeds rein deur die Woord wat Ek tot julle gespreek het.
Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie.
Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.
As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand.
As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.
Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra; en julle sal my dissipels wees.” Joh 15:2-8
Daai dorre wynstokke kan maak net wat hulle wil, hulle sal daai seisoen MOET deurgaan. Ons ook.
Ontspan, weier om na strooi van die satan en ander mense te luister. Wag, wees geduldig.
Jy weet jy is so dood, maar jy weet ook waar jou wortels is.
Groete Johann
Ek het aan die begin gesê, gaan ons na satan se leuens luister of gaan ons na die Woord van God luister? Sonder dat Johann my gekomplimenteer het en probeer goed voel het oor myself het hy my op sy mooi, geduldige manier net Skrif gestuur, en my depressie het my onmiddelik verlaat.
Ek hoop dat iemand wat aan depressie ly hierdie lees! Ek, wat al amper 15jaar in bediening is, was gepootjie deur satan, en hy het geslaan waar dit die seerste maak! My geestelike lewe! Joh 10:10 hy kom net om te verwoes te slag en dood te maak! En hier was hy besig om my geestelik dood te maak deur my te vertel dat ek nie waardig is om voor God te kom nie! Hoe slinks is hy nie, met my uit die pad, bereik hy meer mense as net vir my! En dit is waaroor Paulus ons waarsku wanneer hy se "Gee aan die duiwel gee plek nie, weerstaan hom en hy sal van jou wegvlug!
Ek gee God al die eer dat Hy my oë vir my oopgemaak het, deur my liewe vriend Johann se wysheid oor die Woord van God!
Dankie God dat U Woord so sterk is dat selfs net 'n paar versies ons kan terug ruk na die waarheid en werklikheid, en dat ons deur U Woord opgetel kan word en terug gesit kan word op ons pad!
Alle eer aan U wat die Ware en Lewende God van die heelal is.
Wees geseend in Jesus en moenie julle ore uitleen aan satan nie, Jesus waarsku ons ook, dat hy wat dink hy staan nie val nie.
Dankie Jesus dat U gekom hom om ons staande te hou!
Jesusgroete
Belinda

No comments:
Post a Comment