Ek was 17 jaar oud toe ek besluit om
te trou om uit die huis te kom. Nie omdat my ouers slegte ouers was nie, maar
omdat hulle geskei het en my ma die huis verlaat het. Die seer wat my pa deur
gegaan het was te erg vir my om te sien, dus besluit ek toe om met ‘n man te
trou wat 15jr ouer is as ek, en hier begin my nagmerrie!
Ek het hom alreeds ‘n jaar geken
voordat ons getroud is, en nooit agtergekom dat hy ‘n vreeslike slegte humeur
aan hom het nie, of dat hy te veel drink nie. ‘n Week voor ons troue, sien ek
die eerste keer hoe ongevoelig en kwaad hy kan word toe hy my probeer verwurg
oor ‘n argument.
Ek bid en vra “Here gee my ‘n teken of ek met die man moet
trou of nie” En die Here gee vir my ‘n teken maar ek verontagsaam dit. Ons het ‘n
afspraak by die hof gaan maak om te trou die volgende dag nadat ek gebid het.
Terwyl ek die vorm moet invul, trap hy my uit omdat ek te klein skryf, ek
antwoord “nou vul jy die vorm in”. Net daar draai hy om en loop uit die gebou
en los my daar. Ek moes huis toe stap! My teken waarvoor ek gevra het! Maar
waarna ek nie geluister het nie!!
Die volgende Vrydag is ons in die hof
getroud en begin my volgende 5jaar van hel!
Binne die eerste week van ons huwelik
was ek geslaan as ek net iets verkeerd sê, as ek gewaag het om terug te
antwoord was ek verwurg, as iets in die huis op verkeerde plek was, het die hel
losgebreek en was ek gegooi met die eerste ding wat naby was, van ‘n melkbottel
tot ‘n koffietafeltjie. Die man was perfeksionisties en ek moes ook wees. As ek
nie reg aangetrek het volgens hom nie was my klere sommer van my afgeskeur en
moes ek ander klere aantrek.
In die oggende voor hy werk toe gaan
moes ek sy hemp en broek (wat uit die kas kom) stryk! Hy het dit nie aangetrek
as ek dit nie eers gestryk het nie. Goed wat alreeds gestryk was, moes gestryk
geword het voordat hy dit aantrek.
Ek het ook gewerk. Hy het my by die
werk afgelaai en opgetel. Ek mag met niemand gepraat het nie, anders was ek
toegesnou en geskel vir ‘n hoer, maak nie saak of dit voor die gebou was waar
ek gewerk het nie, en hoeveel mense daar was nie.
Ek mag nooit geld gehad het nie, my
salaris het net so na hom gegaan. As ek iets nodig gehad het moes ek hom vra,
en sou hy dit of vir my koop of vir my geld gee, (as ek dit na sy mening regtig nodig gehad het), en die kleingeld en strokie
moes ek vir hom terug gee. Ek mag net gekoop het wat ek voor gevra het, niks
ekstra nie en die kleingeld moes 100% reg wees anders het die hel weer los
gebreek.
My kanse om uit hierdie huwelik te kom
was so min soos niks. Sonder geld kon ek maar net bly waar ek was. Voor ander
mense was ek behandel soos ‘n prinses, die beste vrou wat enige man ooit voor
kon vra, agteraf was ek geskel omdat ek te vriendelik was met ‘n mans persoon,
of iets vir ‘n vrou gesê wat nie van toepassing was nie, of ek was te stil, of het hom verneder op een of ander manier…hy
sou wel fout vind met iets wat ek gedoen het, en rede kry om my te klap of met
die vuis te slaan of aan die hare rond te trek. As ek alles moes vertel wat in
daai huwelik gebeur het sal ek ‘n boek kan skryf, maar ek gaan dit kort hou
en net noem dat ek met ‘n warm pot kos
gegooi was wat op die stoof gestaan en kook het omdat ek hom terug geantwoord
het, ek was amper uit die kar gestamp op die hoofweg na Pretoria, ek was voor
mense verwurg, met die vuis in my maag geslaan, geskop, voor sy kinders van sy
vorige huwelik verneder deur my te skel vir ‘n hoer en my klere van my liggaam
afgeruk, omdat ek vir die seuntjie gesê het hy moet eers eet voor hy lekkergoed
eet. Dit is seker nie nodig om te noem dat sy eks-vrou hom gelos het vir
dieselfde redes nie.
Behalwe dat hy my fisies aangerand
het, het hy my, seksueel en emosioneel net so afgebreek, die enigste goeie ding
in ons huwelik was dat ek kon klere rekenings he want ek moes ten alle tye op
my beste lyk, hy het glad nie omgegee dat ek geld spandeer op my klere rekenings
nie….in teen deel dit was van my verwag om dit te doen sodat dit kon lyk asof
sy trofee aan sy arm nie te kort het aan enige iets nie.
Die ander goeie ding wat uit ons
huwelik gekom het was dat ek ambisieus geword het. Ek het baie hard gewerk om
die leer te klim, ek was gewoond teen die tyd om altyd my beste te gee, en het
sodoende vinnig bevordering by die werk gekry. Deur ‘n vennoot was ek ‘n pos
aangebied by ‘n ander maatskappy en kort voor lang, op die ouderdom van 23 was ek
die Persoonlike Assistent van die CEO van die maatskappy waar ek gewerk gekry
het.
Teen hierdie tyd het ek self werk toe
gery omdat hy in Johannesburg Middestad gewerk het en ek in Rosebank.
Dit was niks vreemds dat hy oor n
naweek nie sou huistoe kom nie, hy het “pool” gespeel en baie gedrink en sou op
‘n Vrydagaand na werk gaan speel en eers Sondagmiddag by die huis aankom. Goed
gedrink, moeg en humeurig. Ek het eeers na ons egskeiding uitgevind dat hy verhoudings gehad het.
Een Vrydag moes hy my by werk aflaai
en optel want sy kar was in vir ‘n diens en hy het my kar gebruik. Die middag
na werk het hy gaan pool speel en ek moes wag dat hy my moes kom haal. Gelukkig
het my baas hulle ook die Vrydag na werk drankies by die werk gedrink en kon ek
binne die kantoor wag. Teen ongeveer 9uur kom hy by die werk aan om my op te
tel en ek het nie geweet hy wag buite nie, die volgende oomblik storm hy in die
kantoor en skel my dat ek met my base hoerreer en gee my 1 minuut om in die kar
te wees of ek kan self by die huis kom. Ek hoef seker nie te vertel wat het
gebeur toe ek in die kar klim nie!
By die huis gekom het ek kamer toe
gegaan en my klere begin uittrek toe hy die kamer binne storm. Ek het net ‘n
T-hemp aangetrek en nog nie my broek aangehad nie, hy het my geskel dat ek ‘n
hoer is en dat ek saam my baas (wat 60jr oud was) slaap. Dit was winter, en ek
is net so met T-hemp uit die huis gegooi om buite te slaap soos hoere doen. Hy
het eers die volgende oggend 8uur die deur oopgesluit sodat ek kon inkom.
Die Maandag by die werk het my baas my
ingeroep en gevra wat gaan by die huis aan, ek het gese niks hy was net
gedrink, maar my baas het lankal vermoed dat ek geslaan word. Hy het my ‘n
verhoging aangebied en gese ons gaan ‘n ander rekening vir my oopmaak en die
verhoging gaan hy in daai rekening betaal en nie saam my salaris nie, hy sou
die kaartjie by hom hou en wanneer ek eendag die geld nodig het kan ek dit by
hom kom haal.
Na hierdie insident waar ek amper verkluim het en met die verhoging
het ek besluit wanneer ek genoeg geld het gaan ek wegloop sonder dat hy dit
weet. Ek het intussen vir my beddegoed gekoop op my Edgars rekening en
weggesteek by ‘n vriendin se huis.
Toe ek genoeg geld in die ander
rekening gehad het, het ek ‘n woonstel gaan huur, en eendag ‘n man gehuur wat
klein trekke doen en so het ek getrek toe hy by die werk was. Ons ontvangsdame
by die werk het sy stem geken, en wanneer hy geskakel het, het sy gese ek het
bedank en hulle weet nie waarheen ek is nie. Ek het my ouers vertel wat in ons
huwelik aangegaan het en dat ek getrek het en dat hulle ook vir hom moet sê
hulle weet nie waar ek is nie.
So het ek vir 3maande in my nuwe
woonstel gebly sonder dat hy my in die hande kon kry. Eendag het ek ‘n boodskap by die werk gekry
dat ek ‘n sekere prokureur moes skakel oor ‘n egskeiding wat aangegee is, ek
het hom geskakel en ons is so geskei. Ek moes hom net eendag weer sien om
te teken vir die skeisaak by die prokureur se kantoor, en tot vandag het ek hom
nooit weer gesien nie.
Hoekom sou ek nou sê die Here het my
gehelp? Omdat ek glo dat Hy, dit op my baas se hart gelê het om my ‘n verhoging
te gee, dat Hy my baas se oë oopgemaak het vir wat aangegaan het in my lewe.
Niemand het geweet nie, nie eens my eie ouers en familie nie of enige vriendin
nie. En dat Hy my genadig was om uit so huwelik te kon kom. Ek moes in die eerste
plek geluister het toe ek die teken gevra het en gekry het, om weg te loop en
nie met die man te trou nie, maar ons is mos ongehoorsaam en glo nie dat God
ons gebede verhoor wanneer ons Hom vra vir wysheid en insig nie.
Ek is twee jaar later met my man
getroud en ons het 3 wonderlike kinders. Vandag dien ek die Here met oorgawe en
kan ek vrouens help wat in dieselfde situasie is.
Met God werk alles ten goed mee vir
die wat Hom liefhet. En ek dank Hom vir my beskerming dat ek nie doodgemaak was
in daardie huwelik nie, en dat Jesus my verlos het van alle vernedering, lae
selfbeeld en minderwaardigheid wat ek deurgegaan het.
Dankie vir U hand van beskerming en 'n uitkoms wat U my gegee het deur genade.
Jesus seen
Belinda
EFESIËRS 2:8 Want uit
genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is
die gawe van God;