Deur Kaydene Davids 02 Februarie 2017 NETWERK24
Lee-Anne Adonis wat ’n skamele 525 g by haar geboorte geweeg het en sedertien aan geen lewensondersteunende masjiene gekoppel is nie.Foto’s: Mlungisi Louw
’n Piepklein wonderwerk van 525 g wat in Januarie in ’n ambulans op pad na ’n hospitaal in Kakamas gebore is en nooit aan enige lewensondersteunende toerusting gekoppel was nie, verstom tot medici.
Lee-Anne Adonis weeg vandag 625 g.
Sy is op 12 Januarie op tussen 22 en 25 weke met die hulp van ’n vroedvrou in ’n ambulans gebore. Sy is toe per lugambulans na die Mediclinic Bloemfontein gebring waar sy deur dr. Jaco Neser behandel word.
Neser sê alles aan Lee-Anne is perfek: haar longe is ongelooflik, haar hart is piekfyn, haar suikervlakke is normaal en haar bloedtelling is soos dié van ’n “volwassene”.
Sy haal sedert geboorte self asem. Neser sê hy het al verskeie vroeggebore babas behandel, maar nog nie een wat nié aan lewensondersteunende masjiene gekoppel is nie.
“Ek het nog nooit so iets gesien nie. Alles aan haar is spesiaal. ’n Klein wonderwerkie.”
Hy sê daar is geen aanduiding dat Lee-Anne permanente skade opgedoen het nie.
’n Afdruk van Lee-Anne Adonis se linkervoetjie en -handjie.
“Sy sal normaal soos ’n premature baba ontwikkel.”
Skaars twee weke voor haar geboorte het haar ma, Antoinette, ’n huisvrou van Nababeep in Namakwaland, uitgevind sy is swanger.
Lee-Anne se skielike opwagting was vir haar en haar man, John, ’n groot skok, maar tog ’n lekker verrassing, sê sy.
“Ek was nie voorbereid op haar koms nie. Ons het nie eens klere vir haar gekoop nie.”
Al waarop sy nou wag, is om haar wonderwerkie in haar arms te kan hou.
“Ek is hartseer. Sy is duisende kilometers van my af, maar sodra ek genoeg geld het, klim ek dadelik in ’n bus om haar te sien.”
Barbara Steenkamp, hospitaalwoordvoerder, sê Lee-Anne word in die waaksaal vir vroeggeborenes in ’n broeikas behandel.
Sy kry buisvoeding.
“Sy is ’n spesiale klein mensie wat in ons harte gekruip het.”
Dokters is gaande oor Lee-Anne Adonis, ’n piepklein vroeggebore baba van Nababeep in Namakwaland, omdat sy sedert haar geboorte op 525g nog glad nie aan lewensondersteunende toerusting gekoppel was nie. Lee-Anne, wat nou al 625?g weeg, word in die Mediclinic Bloemfontein versorg.
Foto: Mlungisi Louw

No comments:
Post a Comment