Powered By Blogger

Thursday, 25 August 2016

Pad van ware vergifnis na moord


Image result for cross


My laaste sê…

Op 11 Desember 2003, kry ons die aaklige tyding dat my kleinboet Human van Staden, 'n 25 jarige mediese dokter en stigterslid van Brilliant Cut, wreed vermoor aangetref is in sy meenthuis in Langenhovenpark .

Niemand kon ons voorberei op die seer en die media-debakel wat daarop gevolg het nie…nóg minder op die onreg wat sy nagedagtenis aangedoen is toe die regstelsel kortpad gekies het deur hulle pleitooreenkomste te aanvaar veral nadat die familie mislei is met die inhoud daarvan. Ek onthou my ouers se stomgeslane gesigte met die lees daarvan in die Hooggeregshof. Die slagoffer het geen regte en kan homself nie verdedig...gedane sake het geen keer en Human se karakter en menswees is die buffer vir die aanslae daarbuite. Ons, sy familie, wéét wie hy was, my ouers kén hulle jongste.

Die afgelope amper 13 jaar moes ek toesien hoe my gesin swaarkry en rondskarrel om al die flenters weer bymekaar te trek want sien, ons is ‘n omgee-familie. Ene waar ons ons verskille omhels, saamstaan en nooit, ooit, iemand agterweë laat nie. Ons hartsglimlagte het getaan en alhoewel mooi herinneringe uiteindelik die lelik-onthou weggeskuif het, was ons beroof van ‘n eenheid  wat eens as idillies beskou was. Woordelose, hartseer gesprekke tussen my stukkende ouers het my sprakeloos gelaat,  almal se seer en rondtas na halms van hoop het my telkemale laat smeek na Bo vir nóg genade, nóg méér liefde maar veral vir vergifnis want diep binne my het ek die nagmerries onthou van my kleinboet se liggaam wat so weerloos daar lê … hande en voete vasgebind, mond volgeprop met kous of t-shirt…kop verbrysel met ‘n 8kg klip.

Ek onthou die bisarre aanbod aan die familie van onbekende oorde om die skuldiges “uit te haal” vir ‘n skamele R5000 per kop. Saam het ons besluit dat ons nie ook tot daardie vlak sou daal nie. Vandag veral, weergalm my paps se woorde na hul vonnisoplegging deur my wese…”Julle het ons glimlag-kind doodgemaak, slegs sy nagedagtenis kan verder goed doen op hierdie aarde. Julle gaan tronk toe…gaan verander asseblief ten goede, neem Jesus aan as julle Saligmaker en wys aan die wêreld dat my kind se dood tog  iets groots en positiefs tot gevolg gehad het.”

Ons as familie het aangegaan, my kleinboet onthou vir die wonderlike mens wat hy was. Die hartseer het plek gemaak vir lekker lag wanneer ons herinneringe gedeel het. Intussen het ons my mams ook teruggegee aan ons Skepper en vleg ons haar en Mannie saam-saam deur ons gedagtes.

Die skuldiges is jare gelede al sonder ons medewete vrygelaat en alhoewel ons nooit eens wou weet waar hulle hulle bevind nie, het  kennisse van vriende my gedurig van hulle doen en late in kennis gestel. Volgens gerugte kon hulle nie daarin slaag om die reguit paadjie te stap nie. Dit het nie werklik aan my saak gemaak nie want hulle het die res van hulle lewens gehad om dinge reg te maak, die klad en die beeld van hoe hulle oor my kleinboet se lewelose liggaam getree en getrap het terwyl hulle sy huis gestroop het, uit hulle gedagtes te verban…immers was daardie beelde alreeds ‘n straf.Maar, die mens se tyd is nie noodwendig God se tyd nie. Gisteroggend kry ek tyding van ‘n vriendin dat sy moordenaar, Kevin van den Berg ,

Saterdagoggend gesterf het in Pelonomi Hospitaal se ICU na ‘n oordosis dwelms.  Die tyding het skaars ingesink of ‘n verslaggewer skakel laataand om te verneem of ons bewus is van Kevin se afsterwe…nodeloos om te sê dat sensasie-gerigte media geen kommentaar verdien. Die eerste tyding en kennisse van hom bevestig dat hy wel aan ‘n oordosis dwelms beswyk het.

Later lees ek op Facebook dat hy aan “breinvliesontsteking” dood is, dat hy die kans gehad het om sy sondes te bely en sy hart aan Jesus gegee het. Waaraan hy werklik beswyk het, maak nie saak nie. Ons dien ‘n Here wie vir ons aan die Kruis gesterf het…’n God wie al Sy kinders lief het en bowenal, onbeskryflik genadig is. As hy opreg bely het sal God hom vergewe en hom in Sy Koninkryk verwelkom. Wat ek of enige iemand dink, voel of sê, is irrelevant.  Wat belangrik is, is dat die res wat betrokke was, ook die waarde van tyd besef want ‘n kans om op die nippertjie reg te maak, word nie almal gegun nie.

Ons is onbeskryflik dankbaar vir al die genade, lewe nog steeds vir nou, vertroetel die onthou en sien uit na ‘n eendag-weer-ontmoet.

Alle sterkte aan sy familie.
Ché

No comments:

Post a Comment