Powered By Blogger

Sunday, 3 July 2016

Van heksery tot Koningsdogter!

Image result for cross

Jesus knak my!


Ek wil nie my eie naam gebruik nie, vir redes wat ek nie nou wil noem nie.

Ek was betrokke by okkultiese groep mense, betrokke by “magic spells”, ek het geglo dat ek energie ontvang van geeste (onrein geeste). Ek het so ver gegaan om geeste op te roep, en hulle in te nooi om besit te neem van my sodat hulle my krag en energie kan gee. Ek het geglo met hulle energie kan ek mense genees.
Jesus, vir my was nie die Seun van God nie, Hy was net iemand wat ‘n voorbeeld was vir ons, ek het geglo dat ek mense genees soos Hy mense genees het, deur my energie wat ek van onrein geeste ontvang het.

My lewe was ‘n gemors, ek was op staat, ek het dwelms gebruik, en dagga vir my was die regte ding om te doen, omdat dagga jou ook energie gee om te vergeet van alles wat om jou aangaan, die lewe en die seer van die lewe was onderdruk deur dagga. Ek was seksueel gemolisteer deur my oupa en oom as klein dogtertjie
Ek het ‘n vriend ontmoet wat my blootgestel het aan hierdie wereld waarin ek verval het,op 16 het ek saam hom weggeloop Port Elizabeth toe, op 17 was ons dogtertjie gebore.

Ons dogtertjie is 2 jr oud, sy bly by haar pa se ouers, ek kon nie na my eie kind kyk nie, die verlange na haar was baie groot maar ek het geglo dat sy beter af is sonder my in haar lewe. My eie pa het ek nooit gesien nie, hy het nog nooit in my belanggestel as mens nie, na my ouers se egskeiding is hy weer getroud en sy nuwe vrou soek my nie naby haar nie.

My ma is ook weer getroud en my stiefpa het my (nie net vir my nie, my ma en stief boetjie en sussie ook) mishandel en afgebreek. Ek het hom met ‘n passie gehaat vir wie en wat hy is. Toe my ma besluit sy los hom het ons in ‘n woonstelletjie getrek, al wat ons besit het was ‘n matras, nie eens ‘n gordyn voor die vensters nie. Ons al 4 het ‘n dubbelbed matras gedeel, my ma het donasies van mense gekry en ons het begin om ons eie “huis” te bou. My ma is ‘n groot Christen, en het alles probeer om my reg te help maar daar was geen salf aan my te smeer nie, ek was opstandig en rebels.

Op my laaste besoek aan my ma, het ons gesels en ek het vir haar gesê dat ek emosioneel net wil genees, sy het voorgestel dat ek hierdie tannie gaan sien wat haar gehelp het. Ek het ingestem en die afspraak was gemaak vir die Dinsdagmiddag 4uur.

By die tannie gekom het sy geluister na my verhaal, en gesê sy kan my nie genees nie, net die Here kan! Ek het my gewip en geantwoord dat ek net gekom het om emosioneel te genees, nie om te hoor van God en Jesus nie, ek wil net die seer weg he. Ek wil nie oortuig word dat ek verkeerd is nie, nog minder stel ek belang in Christenskap. Die tannie het verduidelik dat ek hel toe gaan as ek Jesus nie aanneem nie, my antwoord aan haar was, dan gaan ek hel toe, maar van Christen word kan sy vergeet.

Vandag, bedank ek die Here vir hierdie tannie, dat sy baklei het vir my siel! Ek het nooit gedink dat ek van siening sal verander nie, Christenskap vir my was die grootste klug wat daar nog ooit in die lewe was.

Sy het gevra kan sy vir my bid, en gesê, “Maar ek bid vir Jesus” Ek het geantwoord dit is reg. Toe die tannie begin bid, het ek onsettend begin huil, sy het opgehou bid en gevra “Hoekom huil jy?” Ek het geantwoord “Ek weet nie, ek voel net die grootste liefde binne my wat ek nog ooit beleef het” Die tannie het langs my stoel gekniel en vir my gesê “ My kind, wat jy beleef is die liefde van Jesus, ten spyte van die feit dat jy hom nie wil ken nie, het Hy jou nogsteeds so lief, dat Hy jou sal genees van jou hartseer, Hy is Liefde en wat jy ervaar op die oomblik is Sy liefde….wil jy Hom nie maar aanneem as jou Verlosser dat Hy jou ten volle vry kan maak nie?”

Die sagtheid van haar stem, en die gevoel wat ek binne my ervaar het, het my geknak, ek het gehuil soos ‘n baba en net my kop geskud. Die tannie het gevra of ek die besluit neem omdat sy so sê, of omdat dit ‘n hartsbegeerte is? Ek het binne my gevoel ek soek Jesus en het vir haar gesê “Ek wil Jesus aanneem” Sy het dat ek agter haar aansê dat ek Jesus aanneem as my Verlosser en Saligmaker, dat ek glo aan die Kruisdood vir my en dat Jesus opgestaan het en sit aan die regterhand van God en dat Hy die Heilige Gees gestuur het as ons Trooster, hierna het sy begin bid. Ek was vol onrein geeste. Die tannie het gebid en later my ma gevra om saam haar te bid.

Toe alle geeste uit is, het sy gebid dat God my vul met Sy Gees.

Ek het 2 dae later vir die tannie ‘n “voice message” gestuur en vir haar dankie gesê dat sy aanhou veg het vir my, my bevryding het 4ure geneem voordat ek eers vry was van al die geeste. Sy het geantwoord dat ek Jesus moet bedank en dat sy onsettend bly is vir my dat ek die stap geneem het, dat ek die Bybel moet lees, en aanhou met bid, en as ek enige hulp nodig het dat ek haar kan kontak.
Dit is nou eers ‘n week later, maar die gevoel van “sweef” het nog nie opgehou nie, die vryheid en verligting wat ek binne my voel is onbeskryflik, dieselfde met die liefde wat ek binne my ervaar. Wanneer Jesus liefde binne jou is, maak dit nie saak of jou eie pa jou nie wil ken nie, en wat die wêreld van jou dink nie….wanneer jy Jesus liefde binne jou ervaar, is jy waarlik vry van alle dinge.

Ek kan nie genoeg Bybel lees nie, ek wil alles weet van my Verlosser, en ek wil binnekort gedoop word. Ek bedank Jesus vir Sy Liefde om my te red, ten spyte van die feit dat ek Hom nie wou ken nie. Ek dank God vir hierdie tannie wat met soveel liefde met my gewerk het en my nie veroordeel het nie, ek dank die Here vir alles wat met my gebeur het laas Dinsdagaand want ek stem saam met die tannie, net Jesus kan mens waarlik vry maak van alles….van haat, hartseer, minderwaardigheid tot satan!

Dankie Jesus!!


No comments:

Post a Comment