Powered By Blogger

Saturday, 10 September 2016

'Ek wil net gaan dans by Jesus'


Image result for cross


Met ballonne wat deur die Vrystaatse lug trek, is Rachelle Lillie (14) Vrydagmiddag deur familie en vriende gegroet.

Rachelle, wat ook gehoorgestremd was, het vroeër vandeesmaand haar dapper stryd teen chroniese spierswakheid (myasthenia­ gravis) verloor.

Die Hoërskool Jim Fouché se trompoppies het vir Rachelle se kis erewag gestaan toe dit by die kerk ingestoot word.

“Ons vier vandag haar lewe. Dis presies wat sy sou wou gehad het,” het pastoor Marius Jacobs in die AFM Worship Centre in Bloemfontein gesê.

“Ons weet waar sy nou is, maar ons sal ons pop gou weer sien.”

Rachelle, wat deur baie mense as ’n “engelkind” beskryf is, was baie lief vir dans en het gereeld danse gechoreografeer.

Maar weens haar spierswakheid kon sy later nie meer dans nie.

“Sy het vir haar mamma (Marina) gesê: ‘Ek wil na Jesus toe gaan. Ek wil net gaan dans by Jesus.’

“Dit was haar hartsbegeerte.”

Een van haar vriendinne het tydens die diens ’n dans wat deur Rachelle gechoreografeer was, as huldeblyk aan haar uitgevoer.

Baie herinneringe aan haar is gedeel en tussen die trane deur het begrafnisgangers gelag as hulle teruggedink het aan haar sêgoed en optrede.

Begrafnisgangers het ook eerder badsout as blomblare op die kis in die Bainsvlei-begraafplaas gegooi.

Al het baie uitdagings weens haar siekte haar in die gesig gestaar, was sy altyd dankbaar.

Woorde wat sy altyd gebruik het, “Thank you, Jesus”, was ook op die kis aangebring.

Rachelle is in Desember 2014 met die seldsame siekte gediagnoseer­.

Tydens haar siekte het haar hart vir 13 minute stilgestaan.

Maar deur dit alles het sy aanhou glo sy sal genees word.

Sy het op 2 September sag in haar ouerhuis in Bloemfontein heengegaan. – Netwerk24

Image result for lots of balloons in the sky




No comments:

Post a Comment