Powered By Blogger

Saturday, 24 September 2016

My Siel smag na Water


Image result for cross


Die hitte slaan warm golwe teen my wange vas.  Die aarde is droog en die mieliestingels is al wat nog op die grond sigbaar is.  Ek kyk op Hemel toe, soekend na hoop, maar dis of die horison vandag verder strek as gister.  My hart roep onwillekeurig, “Here, wanneer is dit genoeg?”

Ek staan vir ‘n oomblik stil.  Luister, miskien hoor ek ‘n fluister, maar dis net die voëls se gekwetter wat meeding met die beeste vir dieselfde stoppels.  Ek sak op my een knie en tel ‘n handvol van die warm grond op.  Vandag voel dit soos hel, dink ek by myself terwyl rooi grond deur my vingers loop.
Ek haal my hoed af, ek is op moedverlore se vlakte.  Die warrelwind skep my hoed, maar ek spring nie op nie.  My siel woel onstuimig hier binne my.  Vandag is ek by die kruispad wat ek al so lank uitgestel het.  “My Here hoekom”?

Ek hoor my vrou se stem, ferm, maar opreg.  “Willem, jy moet by God uitkom, alles gaan nog vrek op hierdie plaas!”

Uit my binneste kom ‘n onaardse gil wat alles binne my breek.  Ek huil en skel tegelyk.
“My kind, my kind, hoekom Here hoekom myne”?  Ek val met my gesig in die warm sand en slaan stofwolke met my vuiste in die grond.  “Here, dis so seer” hoor ek die snikke opgaan.
My liefling kind, dit was so vinnig so skielik.  “Ek sien pa nou”  was sy laaste woord.
“My liefste seun ek mis jou so”!  “Here ek het vandag klaar geveg teen U en die wêreld.  Was my skoon van hierdie pyn en verdriet en sommer hierdie grond ook.
“My Here ek en hierdie plaas het U water nodig vandag.”

Soos my trane die aarde benat, plof die eerste druppels hier langs my in die stof.  Ek kyk op na die rollende wolke en vir die eerste keer in baie jare hoor ek weer my Vader se stem,  “Vandag huil ek saam met jou my kind.”

No comments:

Post a Comment