Deur Marietie Louw-Carstens 05 September 2016 NETWERK24
Die laerskoolseun van Polokwane wie se hand geamptueer moes word nadat ’n klapper Saterdag daarin ontplof het, bid vir ’n nuwe hand.
Kosie Wessels (7) het vir sy ma, Caroline Strydom, gesê hy bid “dat liewe Jesus ’n nuwe hand vir hom gee”.
Hy is Maandagmiddag uit die Polokwane Provinsiale Hospitaal na die Mediclinic Limpopo in Polokwane oorgeplaas danksy geld wat weldoeners geskenk het.
Kosie het Saterdag ’n bomklapper in een van sy sussies se kamer in hul huis in Ladanna gekry. Hy is ’n gr.1-leerling van die Laerskool Piet Hugo in Ladanna.
Hy het die klapper in sy linkerhand vasgehou en met sy regterhand dit met ’n vuurhoutjie aan die brand gesteek. Hy het die vuurhoutjies glo ook in sy suster se kamer gekry.
Sy ma was besig om die huis skoon te maak toe sy die harde knal hoor. Haar bebloede seun het na haar toe gehardloop en gesê: “Mamma, kyk, my hand is weg.”
Sy linkerhand het aan ’n stuk vel gehang. Strydom, wat van Kosie se pa geskei is, sê haar seun se hemp was ook aan die brand.
Sy het dadelik haar hemp uitgetrek en om Kosie se bebloede hand gebind. Sy het met Kosie in haar arms uit die huis gehardloop en ’n man wat in ’n motor in die straat gery het, voorgekeer en gesmeek om haar na die provinsiale hospitaal te vat.
“Dokters kon niks doen om Kosie se hand te red nie en moes dit amputeer.”
Dokters kon niks doen om Kosie se hand te red nie en moes dit amputeer. Kosie het ook brandwonde aan sy arms, maag en by sy linkeroor opgedoen.
Martie Hurn, ’n skoonsuster van Strydom, sê Kosie is kalm. “Hy teken al prentjies met sy regterhand. My skoonsuster is baie ontsteld, want sy het nie geweet dat die klapper in die huis is nie.”
Volgens Hurn is dit steeds ’n raaisel waar Kosie se 17-jarige sussie die klapper gekry het. “Sy voel baie skuldig oor wat met haar boetie gebeur het,” sê Hurn.
Strydom is ’n enkelouer en behoort nie aan ’n siekefonds nie. Sy het op Facebook vertel wat met Kosie gebeur het. Sy was ontsteld omdat die provinsiale hospitaal haar glo nie wou toelaat om by Kosie te oornag ná sy operasie nie.
Die hulporganisasie Child Med Organisation het ingespring en begin om geld in te samel. Die publiek het hul harte en beursies behoorlik oopgemaak.
Hurn sê danksy dié skenkings kon Kosie Maandagmiddag na die Limpopo Mediclinic in Polokwane oorgeplaas word. Dokters sal nou besluit watter behandeling hy moet kry.
Verskeie mense het op Facebook gesê hoe ontsteld hulle is oor wat met Kosie gebeur het. “Ons hoop dit wys vir almal hoe gevaarlik klappers is en dat dit verbied moet word.”
Kom ons bid saam met hierdie familie...by God is niks onmoontlik nie!

No comments:
Post a Comment