Die HERE vat my vis…
Ons kry swaar... nadat ek alles verloor het, geld huis,voertuie, alles. Al wat ons kon bekostig om in te woon was ‘n probeerslag woonstelletjie in iemand se agterplaas vas aan die motorhuis... waar mens menige nag erge geraas moes verduur.
My lewe begin as Wedergeborene heel van vooraf. Een ding weet ek vir ‘n feit, ek is gered om die Koninkryk te help bou, dat alle Wedergeborenes gered is vir dieselfde doel, maar meeste besef dit nie (of hulle wil dit nie besef nie).
Dis al wat ek weet. Wat die res van my lewe betref, weet ek niks, dit sal maar vandag tot dag moet ontwikkel soos wat die HERE aandui.
Ek gaan vir die eerste keer sedert my gedwonge kinderdae, kerk toe, maar ek soek honderde antwoorde.
So besluit ek om – met die predikant se toestemming – my Sondae na kerk in ‘n bidkamer toe te sluit en die aangesig van die HERE te soek terwyl ek heel Sondag vas. Ek bid en boer in die Bybel en ek leer ontsaglike dinge uit die Woord.
Dis of die Bybel skielik vir my oopgaan soos die heerlike verfrissende waterstrome uit die berge na die sneeu in die Boland.
Ek kry ‘n plan. Alhoewel ek ‘n werk het, sal ek nooit weer finansieel bo kom as ek nie ‘n ekstra inkomste genereer nie. So besluit ek om ‘n eie besigheid te begin opbou... ek gaan vars vis verkoop, van huis tot huis.
In die hawe gesels ek met ‘n groot vismaatskappy en hulle sê dis reg, ek kan so veel vis soos wat ek benodig kontant en groothandel by hulle koop.
Ek ry ‘n ou Mercedes 190. Ek durf nie vinniger as 90km per uur ry nie, dan val die dak in. Selfbejammering bestaan nie, net moed en geloof en durf.
Vishouers, wat darem in die motor pas, en ‘n skaaltjie is aangeskaf en alles is gereed om die komende week my besigheid te begin.
Die Sondagoggend sit ek in die kerk en die predikant praat oor die boufonds en doen ‘n beroep op almal om te bid en welke vermoëns ook al in te span om die boufonds en die opgehoopte rente ernstig aandag te gee.
Die hele storie pla my min. Ek is opgewonde oor my groot planne en eie besigheid.
Ek sien niks, maar skielik is hier iemand langs my in die bank en ek hoor die
Iemand sê vir my ek moet ‘n offer bring en alles wat ek met die vis verdien moet ek aan die boufonds oorbetaal. Dadelik weet ek dis die HERE wat praat.
Toe kry ek myself baie jammer. Dis so onregverdig. Ek is ‘n gebreekte man, stukkend, flenters... ek probeer die stukkies optel om weer aan die gang te kom en nou moet ek my vis afgee.
Ek was die res van die dag doodstil, wou met niemand praat nie. Die hele saak lê soos ‘n onoorkombare berg voor my.
Die Maandagoggend gaan ek saam met predikant visvang. Al my hoop is nou op hom vir wyse raad, straks ‘n kompromie. Op pad na die viswaters vertel ek hom in detail van my penarie, van my visplan en die stem gisteroggend in die kerk.
Ek vertel hom, neem in my vertroue, want ek hoop hy sal vir my sê dis okei, ek hoef nie my visgeld vir die boufonds te gee nie, hulle sal regkom en dat ek die visgeld moet gebruik om my toekoms mee te bou. Daar was niks mee verkeerd om so te hoop nie, of was daar?
Hy sit doodstil hier langs my in die motor, aandagtig en luister, want ek lewer my storie soos ‘n pleidooi... Ag Here Jesus help tog asseblief.
En dan het ek my storie klaar vertel en ek koester ‘n blye hoop.
Ineens praat hy: “Broer, jy sal moet maak soos die HERE sê anders het jy groter probleme.”
En daar bars ek in trane uit terwyl ek bestuur. Maskas, kan ‘n predikant so wreed wees? Die man het geen empatie nie.
Daar is nie ‘n woord verder gepraat nie. Dis visvangery was onsuksesvol en ons is met leë mandjies huis toe.
Op pad om die eerste vis by die vismaatskappy in die hawe te gaan aankoop, kom ‘n blydskap oor my en skielik weet ek: Verkoop soveel vis soos wat jy kan, want dis vir die HERE en die HERE sal jou nooit teleurstel nie. Die seuntjie in die Bybel het sy vissies en broodjies gegee en kyk wat het daarvan geword?
Uiteindelik tog soek nie hulp nie, ek het wonderwerke nodig!
En so was dit... die vis was nie langer myne nie, maar die blydskap was.
Die satan het alles gevat wat ek gehad het.
Toe kom die HERE en hy vat my vis, my 10% ... en na dae gee Hy my 90% terug.
Die satan het my niks teruggegee nie.
Ek so is dit nog my lewe lank, ek gee die 10% en die HERE gee die 90%. Hoe meer ek gee, hoe meer gee Hy.
“Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie.” Ps 37:25
“En Ek sal julle vergoed die jare wat die treksprinkaan, die voetganger, die kaalvreter en die afknyper verslind het...” Joël 2:25
Dis hoe die Bank van die Hemel se ekonomie werk.
Deel asb jou getuienis met ons oor hoe Jesus jou gehelp het, Skryf aan belindapaar@gmail.com Jy kan jou getuienis ook annoniem deel as jy so voel. Jesus gee ons opdrag om van Hom te getuig.
Oorwinningsliefde in Jesus


No comments:
Post a Comment