SA Toraks-chirurg se verstommende getuienis
Die drama wat homself in die sewentiger jare in ‘n teater in HF Verwoerd Hospitaal in Pretoria afgespeel het, mag nou eers bekendgemaak word.
Prof. JC van der Spuy het met ‘n pasiënt se oopgesnyde hart in sy hande gestaan. Behalwe snykunde om die hart te herstel, het Prof. Van der Spuy met ‘n skok besef dat ‘n klepvervanging ook nodig is.
Die skok van die oomblik was dat daar geen klep beskikbaar was nie. Toetse vooraf het ook nie aangetoon dat ‘n klepvervanging nodig was nie.
Hy kon die hart nie weer toemaak en terugplaas sonder om die betrokke klep te vervang nie.
Prof. Van der Spuy het die gebeure destyds met my gedeel op voorwaarde dat ek dit nie bekend sal maak voordat hy weg is nie. Hy het op 87-jarige ouderdom heengegaan.
As diep gelowige mens had hy geen ander uitweg as om hom tot God te wend nie.
Hy het ernstig begin bid vir leiding. Toe hy hom weer kom kry was sy hande besig om weefsel uit die pasiënt se bobeen te sny en het hy staan en kyk hoe sy hande 'n klep uit die weefsel vervaardig.
Die operasie was ‘n skitterende sukses en die klep het 100 persent gewerk.
Sowat twee jaar later het presies dieselfde situasie met ‘n ander pasiënt opgeduik.
Weer het hy gebid en gesê: Here, dis nie of ek dit al gedoen het nie. Gryp U tog weer in.
En dieselfde prosedure het homself herhaal.
Sy kollegas wat alles gadegeslaan het, het in beide gevalle nie besef wat gebeur het nie.
“Mens moet besef dit was ‘n veel groter mediese wonder as ‘n hartoorplanting. ‘n Hartoorplanting is basies die diskonnektering van ‘n ou hart en die opkoppeling van ‘n nuwe hart. Wat hier gebeur het is ‘n mediese wonderwerk uit die hand van God.
“Maar ek het gesien hoe die wêreld prof. Chris Barnard vereer het. Dit wil ek nie beleef nie want God moet al die eer kry vir wat daardie dag in daardie teater gebeur het. Belowe my, dat jy eers hieroor sal skryf die dag wanneer ek weg is,” het prof. Van der Spuy versoek.
Hy het die betrokke dag ook aan my vertel dat sy navorsing getoon het dat die na-operatiewe herstel van ‘n gelowige baie vinniger geskied as die van ‘n ongelowige.
Om hierdie rede het hy altyd by die eerste ontmoeting van ‘n nuwe pasiënt bepaal of die pasiënt Wedergebore is. As dit nie so was nie, het hy op sy besondere vaderlike en liefdevolle manier berading toegepas.
Een keer toe hy sy siekesaal besoek het, het hy by ‘n pasiënt gekom wat die volgende dag ‘n hartoperasie moes ondergaan. Die pasiënt het plat op sy rug gelê, besig om ‘n sedebedorwenede tydskrif te lees.
Prof. Van der Spuy het die boek sag uit die man se hande weggeneem en aan hom gesê: More-oggend haal ek jou hart uit. Jou lewe is in God se hande. Hoe kan jy op die vooraand van so ‘n groot operasie dit waag om hierdie smerige boek tussen jou en die Hemel in te druk?”
Hierop het prof. Van der Spuy ‘n Nuwe Testament aan die pasiënt oorhandig en aan hom gesê: “Vriend, dit is wat jy nou nodig het.”
Vir hom was die redding van ‘n siel die grootste wonderwerk in ‘n mens se lewe.
Oor genesing het hy gesê: “Of dit geskied deur die gebruik van ‘n skalpel, of deur medikasie of deur gebed, dit bly Jesus Christus wat genees, want die mediese wetenskap kon nie bereik het wat hy vandag doen, as dit nie deur God se wysheid aan die wetenskap geskenk is nie.”
· Ek maak hiermee as skrywe ook nie my eie naam bekend nie, sodat die fokus en verering sentraal op God en Sy wonderbaarlike liefde kan val.
JAKOBUS 1:5 En as
iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal
eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.

Dankie Vader dat ons nog wonderwerke vandag kan sien en beleef. Wat 'n wonderlike getuienis! Al die eer aan God!
ReplyDelete