June 9, 2012 Getuienis van Belinda Paar
·
Ek wil God ons Almagtige Vader dank en
eer dat Hy vir Chene (my 10 jarige gestremde dogter) veilig gehou het en gehelp
het dat ons haar terug kry, sy was vir omtrend 2 ure vermis.
Soos julle bo kan sien was dit die nag
van 9 Junie 2012, dit was alreeds koud en in die winter, ongeveer 18:15 soek ek
haar en kan haar nêrens in die huis kry
nie, my seun was vroëer (ongeveer 18h00) kafee toe en ek dink dit was toe dat
sy by die hek uitgesluip het.
Ons bure is deel van die area se CPF,
en ek het gou my buurman geskakel en gevra kan hy op die radio vra of iemand
haar gesien het. Binne ‘n kwessie van ‘n minuut was die CPF lede hier om uit te
vind wat sy aanhet en hoe lank sy alreeds vermis is.
Ek het ‘n foto van haar afgedruk van
my rekenaar en vir almal gegee. Omdat meeste mense “two-way-radio’s” het in die
buurt het, het omtrend almal hiervan te hore gekom. Binne ‘n paar minute was
daar omtrend 70 mense opsoek na haar. Ek en my buurvrou het op die sypaadjie
gestaan en fotos vir almal uitgeeel wat verby gekom het, wanneer die fotos
amper op was het ek gou nog gedruk, en sy het net uitgedeel…die heeltyd het ek
gebid en gevra “Jesus loop saam met haar asb” My buurvrou het ook ‘n radio
gehad so ons kon hoor wat almal sê.
Ek het vir almal op die radio
verduidelik dat sy nie kan praat nie, en dat sy nie sal kan sê waar sy woon
nie, dat haar naam Chene is, en dat sy maklik saam enige een in ‘n voertuig sal
klim want sy geniet om rond te ry, maar sou sy nie wou inklim nie, dat hulle my
net moet laat weet waar sy is en daar moet bly sodat ek haar kan kom haal, of
my man of iemand wat haar ken soontoe kan stuur.
My buurvrou was in trane, en het gevra
hoe bly ek so kalm? Al wat ek kon antwoord was “ Want ek weet waar ookal sy is….Jesus
is saam met haar!” Ek moes vashou aan geloof dat Jesus by haar is anders het ek
dit heeltemal verloor.
Teen 19h00 was daar nog geen nuus
omtrend haar nie! Ek het ons pastoor se vrou geskakel en gevra kan sy asb die
vrouens van die gebedgroep kontak en vra dat hulle begin intee dat ons haar
kry.
My swaer wat iemand in die
aangrensende buurt ken het gevra dat hulle dit ook op hulle radio sal uitsaai
dat mense ook daar na haar sal soek. Ek het nie besef dat dit in hulle buurt
ook gegaan het soos in ons buurt nie, die mense het almal uitgegaan en haar
begin soek, tot die skool meisies op scooter en seuns op motorfietse, mans het
in karre gery, vrouens het twee-twee saam geloop en onder bosse gesoek en in
elke erf probeer kyk of hulle haar kan sien. Die mense in die aangrensende
buurt het nie ‘n foto van haar gehad nie en moes gaan op haar klere drag.
In die buurt langs ons, is ‘n pad wat
na ‘n onbeboude, veld area gaan, maar net voor jy uit die area gaan is daar ‘n
huis wat op hulle sypaadjie ‘n groot kruis wat uit “sleeper-hout” gemaak is het. Dit was
ongeveer 20h10 toe dit deurkom op die radio dat ‘n man en vrou haar by die
kruis gekry het, omgeveer 10km van waar ons woon. Die man en vrou het haar
opgetel, en my swaer en suster ontmoet en haar vir hulle gegee om huis toe te
bring.
Die verligting, om te hoor sy is
veilig en oppad huis toe was te groot, dit was eers toe dat ek in trane uitbars
en net die Here begin bedank het.
Omdat die strate so besig was, het
hulle gesukkel om deur die verkeer te kom om haar by die huis te kry…dit is
hoeveel mense op en af in die strate was opsoek na haar.
Terwyl ek hierdie tik loop die trane
van vooraf. Dat mense so onbaatsugtig kon wees om uit te kom in die koue,
kinders op motorfietse en scooters, vrouens wat gestap het, mans wat rondgery
het….en natuurlik Jesus wat saam haar gestap het. Was dit nie vir geloof in die
Here nie, het ek haar nie terug gekry nie, ek glo dit met alles binne my, ek
glo dat Jesus daardie aand of Sy engele gestuur het, of self saam haar was, dit
kon so ander uitgedraai het, die verkeerde persoon kon haar opgetel het, en
selfs al het die regte persoon haar opgetel, hoe sou hulle weet waar om haar
heen te neem, omdat sy nie kan praat nie.
Dit is met ‘n onsettende dankbaarheid
teenoor ons Skepper dat sy veilige huistoe gekom het, en ek loof en prys Hom
alleen dat sy niks oorgekom het behalwe seer voetjies nie, want sy was
kaalvoet!
Ek dank elke mens wat gehelp soek het,
dit was asemrowend om te sien dat mense so saam kan staan en so vinnig kon
uitkom in die koue om te help soek. Daar is nog baie goeie mense met harte van
goud in die wêreld, ons besef dit net nie, maar weereens dankie aan Jesus wat
dit op hulle harte gelê het om te kom help soek.
My gebed is elke dag dat alle kinders
veilig sal wees en beskermd sal wees onder Jesus Bloed, en my danksegging
teenoor die Here sal nooit genoeg kan wees vir Sy liefde nie.
Met dankbare lofprysing sing ek U toe
O, Almagtige God van Hemel en aarde!
Ps 91:11&12 want Hy sal Sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë, Hy sal jou op die hande dra, sodat jy jou voet teen geen klip sal stamp nie.
Ps 91:11&12 want Hy sal Sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë, Hy sal jou op die hande dra, sodat jy jou voet teen geen klip sal stamp nie.

No comments:
Post a Comment